Die rook vorm ‘n raam
Om jou gesig
En ek roep jou naam
In gedig op gedig
Die rook krul soos ‘n snelweg
Om die stad se krom rug
Die hartseer is swaar
En ek buig onder die gewig
Die rook dans
En maak blommetjies in die lug
Die rook neem jou weg
Die rook bring jou terug
In die bekende reuke
In die kraak van die tabak
In die hoopvolle opstyg
In die moedelose sak
Die rook is ‘n rivier
Donker soos die Styx
Dit hang vir ‘n oomblik
En gaan dan tot niet
Alles het ‘n einde
Selfs die vormlose rook
Selfs die seer
Wat nou nog by my spook
Share this: